Afrikaans
English 

Tuisblad
Fondsinsameling
Behandeling
Geskiedenis
Help die Familie
Kontak Ons


Terug na Tuisblad

Kata se lesse aan ons

Hoofartikel, Hoorn van 10 April 2008.
Geskryf deur Liesel le Roux (redakteur)

KATA BYLEVELD was weliswaar net vyf jaar oud toe sy voorverlede Sondag ná ’n jaarlange stryd teen kanker gesterf het, maar in haar kort lewe het dié dapper meisietjie inwoners van Oudtshoorn, buurdorpe en elders in die provinsie belangrike lewenslesse geleer.

Eerstens het sy ons almal geleer van dapperheid, moedhou en glimlag in ’n lewensbedreigende situasie. En tweedens het sy ons geleer om saam te staan.

Oudtshoorn rou oor die dood van die meisietjie met die sonnige glimlag en die pienk rokkies, want al het baie haar nie geken nie, het mense in groot getalle deel geword van haar stryd toe sy in Mei verlede jaar met kanker in die senustelsel, beenmurg en limfkliere gediagnoseer is.

Met die inisiatief van ’n familie­vriendin, me Rita Theart, was leerders, personeellede en ouers van verskeie skole soos die Laerskool Oudtshoorn-Noord, die Laerskool Van Reede, Principia Kollege, die Hoërskool Oudtshoorn, Langenhoven Gimnasium en die Laerskool Wesbank van die eerstes om op verskillende maniere geld in te samel om Kata se mediese onkoste te help dek.

Gou het organisasies, sportklubs en individue ook ingespring om geld in te samel. Daar is onder die leiding van Pierre Uys fietsgery van Oudtshoorn na Kaapstad, gehardloop en gestap tydens Run/Walk for Life se Kata Byleveld-wedloop, konsert gehou op Oudtshoorn (Alan Ladd en Jannie de Bruin), Mosselbaai (Pieter Koen) en Bellville (Wena Moelich) en gedans in Danabaai waar inwoners ’n gemeenskapsdans gereël het. ’n Groep rugby­liefhebbers het die Curriebeker-eindstryd gebruik om geld in te samel, Gail Myburgh het die inisiatief geneem met ’n Kruisie vir Kata-projek, Annelie Botha met ’n projek om hare te skeer en te kleur, en ’n muntblikkie in ’n kafee in ’n minder gegoede woonbuurt van Calitzdorp was binne drie dae vol munte. Daar was nog baie ander.

Vele gebede het ook daagliks vir Kata en haar familie opgegaan. Daar was dalk op politieke, godsdienstige of ander gebiede verskille tussen mense, maar vir Kata is daar saam koek verkoop, gehardloop, fietsgery en muntleggings gehou.

Toe die Hoorn in Januarie kon berig dat Kata se beenmurginplanting in November suksesvol was, het almal ’n kollektiewe sug van verligting geslaak. En toe sy skielik in die kunstefees weer siek word en ’n dag na die einde van die fees sterf, was almal saam platgeslaan.

Mag ons Kata se lesse nooit vergeet nie. Mag die gemeenskap nou ook saam die Byleveld- en Badenhorst-families deur hierdie dae dra. Ons eer jou nagedagtenis, Kata.

Dankie vir dit wat jy ons geleer het.

18 April 2008

Terug na Tuisblad

     Na Bo   Na Bo     
Kata Byleveld • Teikenspaar • Absa Oudtshoorn • 9101349845 • 334 314
Copyright © 2010  ::  Kata Byleveld :: Site by:  WebWorX