Afrikaans
English 

Tuisblad
Fondsinsameling
Behandeling
Geskiedenis
Help die Familie
Kontak Ons


Terug na Tuisblad

Beenmurgoorplanting het plaasgevind

DIT gaan in die omstandighede goed met die vierjarige Kata Byleveld van Oudtshoorn wat Dinsdag haar lang verwagte beenmurgoorplanting in die Grootte Schuur Hospitaal in Kaapstad ondergaan het.

Kata, die dogter van mnr Mannetjies en me Lizelle Byleveld van Oudtshoorn is begin Mei met kanker in die senu-stelsel, beenmurg en limfkliere gediagnoseer.

Sy het die afgelope aantal maande intensiewe behandeling in Kaapstad ondergaan, wat verskeie dosisse chemo-terapie ingesluit het, om haar vir die oorplanting voor te berei. Die week voor die oorplanting het sy ’n dubbele dosis bestraling en chemoterapie ontvang. Volgens mnr Byleveld het die groot dosis chemoterapie Kata baie siek gemaak. “Sy is baie koorsig en naar, maar dit is normaal in die omstandighede,” het hy Maandag gesê.

Teen Woensdag het Byleveld verlig geklink dat die operasie verby is. Volgens hom word Kata tans streng gemoniteer en sal sy vir die volgende week fyn dopgehou word. Hy het gesê die volgende week is ’n baie belangrike keerpunt in haar pad na herstel.

“Van Vrydag af sal die nuwe beenmurg en haar liggaam ’n bietjie met mekaar baklei, maar as alles vir die week wat voorlê goed gaan, is dit ’n baie goeie teken en beteken dit haar liggaam het die beenmurg aanvaar.” Byleveld het gevra dat mense vir die gesin moet bid. “Ons het elke gebed baie nodig.”

Volgens me Rita Theart, ’n vriendin van die familie, moes Kata se kanker-telling minder as 5% wees voordat die operasie gedoen kon word. Met die laaste telling was dit minder as 1%.

Voordat Kata se beenmurgoorplanting gedoen kon word, is beenmurg­stamselle eers gekweek, waarna dit gevries en ná Dinsdag se laaste chemoterapiesessie in haar rugmurg ingeplant is. Hoe suksesvol die operasie was, sal deur die beenmurggroei oor die volgende drie weke bepaal word. Kata word tans in isolasie versorg, en sal steeds in isolasie wees wanneer sy op 2 Desember vyf jaar oud word.

Theart sê dat die Bylevelds voor die beenmurgoorplanting R200 000 moes betaal.

Volgens Theart is sy en die familie dankbaar teenoor alle pogings van skole soos die Laerskool Oudtshoorn-Noord, Principia Kollege, die Hoërskool Oudtshoorn, die Laerskool Van Reede en die Langenhoven Gimnasium-ondersteunersklub wat fondsinsamelings vir Kata gehou het. Fondse is ook ingesamel met ’n konsert deur Pieter Koen op Mosselbaai en die Halleluja-maatjies van die AGS-kerk.

22 November 2007

Terug na Tuisblad

     Na Bo   Na Bo     
Kata Byleveld • Teikenspaar • Absa Oudtshoorn • 9101349845 • 334 314
Copyright © 2010  ::  Kata Byleveld :: Site by:  WebWorX