Afrikaans
English 

Tuisblad
Fondsinsameling
Behandeling
Geskiedenis
Help die Familie
Kontak Ons


Terug na Tuisblad

Kata maak goeie vordering

Kata se bloedtelling het bietjie geval, en die dr. het vermoed dat sy die Parvo virus opgetel het. Sy het dit al 'n vorige geleentheid gekry, die behandeling het gewerk, daarom dien hulle dieselfde behandeling toe. So tussen die bestraling deur gaan sy terug Rooi Kruis toe vir die behandeling.

Die week na die bestraling vertoef ons nog in die Kaap, net om seker te maak sy word nie siek van die bestraling nie, en dat die behandeling vir die virus gewerk het. Die 18 de kan Kata bietjie huis toe gaan tot 28 Januarie.

28 ste, die Maandag is ons weer in die Kaap, doen bloedtoetse, en gelukkig lyk al die tellings goed. Die dr. is tevrede, en dit lyk of die virus ook nie meer teenwoordig is nie. Kata begin ook vandag met mondelingse chemo. Die dr. se ons moet net versigtig wees, want met die chemo kan die virus weer terug kom. Dr. doen ook chemiese bloed toetse, wat bewys dat haar lewer en nier funksies nog 100 % werk, en dat beenmurg al 80 % werk. Ons almal omtrent verheug - nie dat ons ooit getwyfel het nie.

Die chemo waarmee sy begin Isotretoin is 20 mg. rooi kapsules. Sy kry 6 reekse. 'n Reeks is 2 weke, daarna rus sy 2 weke, en begin dan weer. Dit is 2 kapsules soggens en 2 saans. Gelukkig is dit klein en drink sy dit maklik. Die newe efekte is slymvliese droog op en spierpyne.

Kata se lippies en mondhoeke begin al die 3 de dag van chemo bars en al wat ons kan aansit is vaseline. Sien die dr. die 23/01/08, en toetse lyk goed, ons mag huis toe gaan. Kata se haartjies begin nou lekker te groei, die chemo wat sy kry is nie so sterk nie, daarom val die hare nie meer uit nie.

Die 9 de Februarie hou Laerskool Wesbank 'n Prettrap, waarvan R5.00 van elke inskrywing aan Kata gaan. Gelukkig is haar bloedtellings goed, en ons gaan maak 'n draai daar, daar was omtrent baie mense, en almal groet en is vriendelik. Kata wil nou net skool toe gaan, want sy verlang omtrent na kinders, en sy wil net speel. Ek wil haar nie te lank tussen die baie mense hou nie, maar ai, sy is so opgewonde, en omtrent uit haar nate. Die 'mamma's wat omgee', van die skool het ook vir Kata die mooiste fiets en natuurlik helmet gegee, en Kata het te waffers op haar nuwe fiets gesit, en die lint geknip, vir die deelnemers wat gery het.

Die volgende dag het Kata beenpyne, so erg dat sy nie kan loop nie. Ons bel die dr., maar hy dink dit is spierpyne, want sy was omtrent vir 'n jaar bedleend, en sy het regtig baie gehardloop, fietsgery, springkasteel gespring. Sy het dit so min gedoen, dat ek ook nie gedink het, dit sal 'n probleem wees nie, so leer mens ook. Die 21 ste is Kata baie moeg, en kla nog steeds oor die pyn, ons neem haar toe na die pediater in George. Hy het haar ondersoek, en toetse geneem, en gelukkig niks fout gevind nie. Soos alle kinders het sy niks makeer toe ons daar uitstap, maar ons kla nie.

Die 25 ste Februarie is ons weer by die Rooi Kruis, voel omtrent al soos ons huis, en die personeel soos familie. Die oggend het Kata opgestaan, en kon sy nie haar regter skouer beweeg nie. Die bloedtoetse het goed gelyk. Ons het x-strale van die skouer laat neem, en gelukkig was dit net gekneus, seker maar van al die spelery.Sy het pynstroop gekry, maar die volgende dag was die pyn weg. Die chemo bloedtoetse het ook getoon dat lewer en nierfunksie nog 100 % werk.

Kata begin ook weer vandag (25/02/08) met die mondelingse chemo, gelukkig weet ons die keer wat om te verwag, so ons sal haar maar stil hou, en vroegtydig met die behandeling van die mond begin. Kata het darem ook bietjie gewig opgetel, met die kos etery gaan dit maar swaar, maar sweets en chips se sy nooit nee. Die dr. het vir ons 2 reekse voorraan van die chemo gegee, so ons hoef nou eers weer die 21 April 2008 in die Kaap te wees.

Ons kan amper nie glo dat dit al 'n jaar is vandat sy gediagnoseer is nie. Ons is so gelukkig en geseend. Wanneer ons na ons klein dogtertjie kyk - wat nie meer so klein is nie, kan ons nie glo sy is deur so baie, en dat sy nog lag en dans nie. Ons was van die begin af eerlik met haar, sy is so intillegent dat ons nie anders kon nie. Ons moes aan haar verduidelik hoekom almal by die hospitaal haar seermaak, hoekom ons nie meer by papppa en sussie bly nie. Gelukkig vir ons het sy dit aanvaar, en elke aand as sy haar gebedjie opse, vra sy vir Liewe Jesus om by haar familie te wees, en haar asb. gesond te maak.

Ons is nou amper aan die einde van haar behandeling, en ons weet daar kan nog so baie dinge verkeerd gaan. Maar elke oomblik by haar, en ekstra saam met haar is 'n vreugde en 'n seen. Ons as grootmense het ook so baie geleer, deur net na die kleine wonderwerkie te kyk.

20 March 2008

Terug na Tuisblad

     Na Bo   Na Bo     
Kata Byleveld • Teikenspaar • Absa Oudtshoorn • 9101349845 • 334 314
Copyright © 2010  ::  Kata Byleveld :: Site by:  WebWorX